skip to Main Content

Wie is Femke?

“Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”- Jes. 6:8

Die gedagte van hierdie bediening het voortgevloei vanuit Jesus se woorde  in Lukas 5:10-11“ waar Hy sê “ Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg”

Dit het my ‘n geruime tyd gevat om gehoorsaam te raak aan hierdie opdrag wat ek gevoel het die Here op my hart lê. Ek is  gekwalifiseer as  fisioterapeut  en vir 17 jaar lank  het ek in privaat praktyk gepraktiseer. My pad in bediening het in 2013 begin toe ek ‘n boek geskryf het “God se Genesende Krag”. Die boek handel oor ons gesin se getuienis van hoe God my en my man kom leer het  om geestelik oorlog te voer vir beide ons dogters se genesing.

Die boek was bloot geskryf ten einde God te verheerlik en om te getuig van Sy grootheid, want Hy het iets wonderliks vir ons gedoen en ek moes net vertel van Sy wonderbare ingryping in ons lewens in ons oomblik van nood! Die boek het mense se harte aangeraak en God se Waarheid is verkondig.

Die skryf van die boek het tot gevolg gehad dat ek van tyd tot tyd begin bedien het. Hoewel ek meer aktief betrokke geraak het in die bediening, het ek nogsteeds bly praktiseer as fisioterapeut. Ek het ook begin studeer in teologie omdat ek ‘n absolute honger begin ontwikkel het vir God se Woord en waarheid. Maar in 2016 het die Here Luk. 5:10-11 op my hart begin lê en ek het gevoel die Here wil hê ek moet alles verlaat, menende my praktyk sodat ek Hom voltyds kan begin volg in die bediening.

Luk 5: 10 – 11 “Moenie vrees nie, van nou af sal jy mense vang. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg”

Vir twee jaar lank het ek geredeneer en getwyfel oor hierdie Woord en opdrag aan my totdat ek in April 2018 gehoorsaam geraak het aan God se opdrag. Ek het my praktyk van 17 jaar gesluit en Hom begin volg. ‘n Stap van geloof en gehoorsaamheid. Vrede wat alle verstand te bowe gaan het my gevul en dit was asof die Here vir my sê: “Femke, jy het nou klaar mense fisies gesond gemaak nou gaan jy hulle geestelik gesond maak”

Elke dag wat ek die Here se hande en voete kan wees in ander se lewens is vir my ‘n voorreg. Elke gebroke hart wat genees word, elke ketting van slawerny wat gebreek word en elke verlore skaap wat gered word is ‘n dag van blydskap en oorwinning.

Ek wil graag elke kind van God bemagtig met God se Waarheid sodat God se kinders nie meer onbekend sal wees met die vyand se planne van vernietiging in hulle lewens nie.

Dit is alleenlik God se Waarheid wat ons waarlik vrymaak! Dit is my hart dat God se belofte van vrede en ‘n hoopvolle toekoms (Jer. 29:11) ‘n waarheid sal word in almal wie Hom aanroep se lewens!

Back To Top