Wat glo ons?
“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal! Amen”
2 Kor.13:13
Ons glo in ‘n Drie-enige God. Vader, Seun Jesus Christus en Heilige Gees. Ons glo dat Jesus vir ons gesterf het aan die kruis en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel. Ons glo dat Jesus Christus ons Redder en Verlosser is en dat Hy vir ons die volle prys betaal het aan die kruis.
Omdat Jesus die perfekte Lam was is ons vry gekoop deur Sy kosbare bloed en daarom kan ons nou vrylik tot God nader. Jesus is die enigste Weg en Waarheid en daar is geen ander manier om God ons Vader te nader nie (Joh. 14:6).
In Jesus is ons outoriteit herstel in die geestesrealm en daarom kan ons in die Naam van Jesus nou op slange en skerpioene trap en het ons mag oor al die krag van die vyand soos wat Lukas 10:19 ons leer.
Ons is ook tot alles instaat deur Jesus Christus wat ons krag gee (Fil.4:13) Ons glo dat ons, ons lewens moet leef volgens God se Waarheid en dat God se Waarheid vir ons saam gevat is in die hele Bybel. Daarom aanvaar ons die Bybel as ons enigste waarheid. Ons glo ook dat niks uit die Woord van God weggevat of bygevoeg mag word deur enige menslike interpretasies nie (Op.22:19).
Verder glo ons dat God van ons verwag om die vyand te weerstaan in hierdie lewe (Jak.4:7) en dat ons nie mag onbekend wees met sy planne van vernietiging in ons lewens nie (2 Kor.2:11).
Ons het ‘n verantwoordelikheid om geestelik oorlog te voer vir ons omstandighede, want Efesiers 6:12 leer ons dat ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte in die lug. Ons weet egter dat ons nooit in ons eie krag kan veg nie, maar saam met God in Sy outoriteit kan ons ‘n instrument wees waardeur Hy kan werk, want daar waar God se Lig is en in Sy teenwoordigheid sal die duisternis vlug.


Ons glo dat ons outoriteit direk vanuit ‘n intieme verhouding met God die Vader vloei.
Ons glo dat die Heilige Gees God se Waarheid Sy Woord die Bybel aan ons openbaar en dat die Heilige Gees ons sal lei in Sy Waarheid (Joh.14:26).
Ons glo in die gawes van die Heilige Gees en dat die Heilige Gees hierdie gawes uitdeel aan elkeen afsonderlik soos Hy wil (1 Kor. 12:1-11).
