Die gedagte agter die bediening se naam
Femke is my doop naam en beteken “vrede” en “klein dogtertjie”. Die betekenis van vrede en klein dogtertjie is gepas en in lyn met die bediening se hartklop. In Matt. 18:3 – 4 lees ons “…voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”
Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. Dit is my hart om soos kindertjies in eenvoud God se Woord te verkondig, sodat elke boodskap ‘n prentjie sal teken wat blywende waarde sal hê en ‘n mooi vrug sal oplewer.
Ook wil ek graag in nederigheid bedien deurdat ek minder word en God meer word in mense se lewens. Dit gaan tog alles oor Hom en ons is net ‘n instrument waardeur Hy werk. Hy is die pottebakker en ons is die klei. Dis ook my hart om te kies om verby die onmoontlike te kyk en te glo soos ‘n kind in die onmoontlike, want niks maar niks is onmoonlik by God nie!

Mark. 10:27 “Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.”
Die betekenis van vrede is ook ‘n kragtige boodskap wat ons graag wil uitdra deur ons bediening. Die enigste ware vrede en rus in hierdie lewe kom van God die Vader.
Ons almal hunker na rus en vrede elke dag, dit is juis ons vrede wat die vyand so dikwels kom steel, maar in Jesus word ons vrede weer herstel en daarom wanneer ons God se Waarheid verkondig word die leuen van die vyand geopenbaar en elke leuen van die vyand wat in die lig kom is ‘n stappie nader aan die rus en vrede wat elke mens begeer.
Daarom is dit ons bediening se hart om juis te staan vir hierdie vrede wat die rus van God is omdat dit lewe en oorvloed bring wanneer ons in God se rus en vrede kan ingaan!
Fil. 4:7 “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
2 Tes.3:16 “En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees!”