skip to Main Content

“Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.” – Jes. 6:8

Wie is Femke?

Die gedagte van hierdie bediening het voortgevloei vanuit Jesus se woorde in Lukas 5:10-11“ waar Hy sê “Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg”.

Dit het my ‘n geruime tyd gevat om gehoorsaam te raak aan hierdie opdrag wat ek gevoel het die Here op my hart lê. Ek is gekwalifiseer as fisioterapeut en vir 17 jaar lank het ek in privaat praktyk gepraktiseer. My pad in bediening het in 2013 begin toe ek ‘n boek geskryf het “God se Genesende Krag”. Die boek handel oor ons gesin se getuienis van hoe God my en my man kom leer het om geestelik oorlog te voer vir beide ons dogters se genesing.

Die boek was bloot geskryf ten einde God te verheerlik en om te getuig van Sy grootheid, want Hy het iets wonderliks vir ons gedoen en ek moes net vertel van Sy wonderbare ingryping in ons lewens in ons oomblik van nood! Die boek het mense se harte aangeraak en God se Waarheid is verkondig.

Die skryf van die boek het tot gevolg gehad dat ek van tyd tot tyd begin bedien het. Hoewel ek meer aktief betrokke geraak het in die bediening, het ek nogsteeds bly praktiseer as fisioterapeut. Ek het ook begin studeer in teologie omdat ek ‘n absolute honger begin ontwikkel het vir God se Woord en waarheid. Maar in 2016 het die Here Luk. 5:10-11 op my hart begin lê en ek het gevoel die Here wil hê ek moet alles verlaat, menende my praktyk sodat ek Hom voltyds kan begin volg in die bediening.

Luk 5: 10 – 11 “Moenie vrees nie, van nou af sal jy mense vang. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg”

“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal! Amen” – 2 Kor.13:13

Wat glo ons?

Ons glo in ‘n Drie-enige God. Vader, Seun Jesus Christus en Heilige Gees. Ons glo dat Jesus vir ons gesterf het aan die kruis en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel. Ons glo dat Jesus Christus ons Redder en Verlosser is en dat Hy vir ons die volle prys betaal het aan die kruis.

Omdat Jesus die perfekte Lam was is ons vry gekoop deur Sy kosbare bloed en daarom kan ons nou vrylik tot God nader. Jesus is die enigste Weg en Waarheid en daar is geen ander manier om God ons Vader te nader nie (Joh. 14:6).

In Jesus is ons outoriteit herstel en daarom kan ons in die Naam van Jesus nou op slange en skerpioene trap en het ons mag oor al die krag van die vyand soos wat Lukas 10:19 ons leer.

Back To Top